Friday, 6 October 2017

Ek wens ek kon die tyd laat stil staan... Al is dit net vir 'n rukkie!

My liefste klein Marlo....

Vanoggend weer praat my hart tale... woorde wat my siel kielie. Ek dink dan sommer dadelik aan jou. Daar is niks lekkerder in die lewe as om vir jou te skryf nie.

Die laaste paar maande het ons weer soveel besef... Ons het seer gesien, ons het kwaad beleef en ons het vasgehou aan hoop en geloof. Ek en Pappa het weer besef, dat sonder liefde, kan niks oorwin word nie.

Ons lewe in 'n wêreld, waar kwaad en haat in soveel vorms en kleure voorkom. Ons vergeet soms hoe mooi alles om ons is... Ons vergeet soms hoe God alles geskape en gemaak het, met die 'n doel. Soms, gebeur dinge wat ons weer terug bring aarde toe en ons laat besef, dat alles met 'n rede gebeur.

As 'n mamma, is my grootste wens, net dat jy my liewe klein Marlo, gelukkig moet wees. Ek wil goeie dinge nie vir myself hê nie, maar liewer vir jou. Mamma wil hê, jy moet net die beste hê vir jou toekoms pad. Ek wil hê jy moet al die dinge hê wat ek nie gehad het nie. Ek wil hê jy moet 'n beter mens wees, as wat ek ooit was en meer wonderlik as wat ek ooit kon wees.

As Mamma, kan ek net die saad van liefde plant en hoop dat jou sal lei na die mooiste tuin waarop al jou drome kan groei. Ons almal glo in drome... Ons almal het drome. Omring jouself met hoop en geloof, en mamma belowe jou, jou drome sal groei en waar word. Moet nooit ophou droom nie my kind.

Ek wens mamma kon vir altyd vashou aan jou "klein mensie tyd". Met trots vertel jy my dat jy nou in die groot klas is en dat jy nou groot maaitjies het. Dis so kosbaar, maar so hartseer. Mamma wens die tyd kon stadiger loop.... Ek wil jou nie so gou sien groot word nie. Ek wens jy besef, hoe spesiaal elke oomblik saam met jou is. Jy is mamma se alles my kind. Glo en weet dit altyd.

Daar gaan 'n tyd in jou lewe kom, wanneer jy soms van die paaidjie gaan afdwaal. Dis menslik. Dit gebeur met almal. Die geheim egter is om te weet en te besef, dat mens weer koers moet vind. Jou kompas is jou hart, jou hart is jou God. Volg jou God my kind en jy sal altyd bo uit kom.

Soos jy ouer word, wens Mamma ek kon jou leer van alles. Maar ek kan nie my kind, Mamma kan jou net vertel van dit wat ek weet en jou probeer voorberei vir alles wat nog gaan kom.

Die lewe het soveel mooi. Jy gaan nog eendag iemand so oneindig lief hê, dat jou gaan seermaak. Jy gaan vergeet hoe dit voel om kaalvoet op nat gras te loop en om die oggend dou te sien. Jy gaan na die reuk van reen verlang, en sekere mense so mis, dat jyself eendag gaan wens om die tyd terug te draai. Probeer altyd om die "kind wees" in jou hartjie te hou, want dit sal jou leer om die klein dingetjies van die lewe meer te waardeer.
Jy gaan op 'n stadium in jou lewe besef hoe kort die lewe is en jy gaan wens vir meer tyd. 
Jy gaan mense leer ken op jou pad, wat 'n toekoms saam jou gaan loop. Jy gaan leer wanneer iemand opreg is, en wanneer iemand nie eerlik is nie. Jy gaan die woord dankie nie meer hoor nie, maar jy gaan dit in hulle ogies sien. Jy gaan met tyd leer wat belangrik is, wie belangrik is, en wie jou liefhet soos ek jou lief het.

Die belangrikste my kind, is dat wanneer oor woordeloos op ons kniee voor God staan, hoef ons nie hardop te bid nie. Soms gaan jy nie woorde hê nie, maar dis ok, want God luister na jou hart. Glo altyd in ander en in jou God... Wees geduldig... Vat kanse my kind... Respekteer elke liewe mens wat oor jou pad loop maar meeste van alles, wees altyd net jouself en opreg! Wees trots op wie jy is en waar jy vandaan kom. Glo altyd in jou hart en in  jou eie menswees!

Maar meeste van alles, glo en weet altyd, elke nuwe dag is 'n nuwe kans!

Ek is lief vir jou my klein superman... vir altyd en altyd!

Met al my liefde

Mamma