Thursday, 30 March 2017

Probeer altyd die mooi raak sien my kind...

 My liefste Marlo engel kind...

Waardering, geluk, hoop en liefde, is die gevoelens wat jou rots word. Jy sien my kind, mens kan nie daarsonder lewe nie. Mens begin leef vir daai geluk, liefde, sukses en geloof. Ons leef in wêreld waar daaglikse roetines mens se lewe begin oorheers. Ek weet dis nie iets wat jy nou al verstaan nie, maar dis iets wat deel van jou lewe gaan word. Daar is geen keer aan dit nie.

Dis die agterkant van die prentjie, wat soms die vaalste lyk, maar eintlik is dit presies waar elkeen van ons, ons fokus moet plaas. Want net jy my kind, kan die vaal kant omskep in iets mooi. Ons vergeet soms van die belangrikste, en laat toe dat daaglikse takies ons menswees oorneem.

Seisone verander... emosies vreet ons op... Soms voel ons binneste leeg.. Ons verlang dan na die onbekende, na mense wat ons nie eers ken nie. Tog, is alles in jou lewe, presies soos God dit beplan het. Moet nooit in God se plan twyfel nie. Ons besef dit net nie altyd nie. Ons vergeet ons is hier, omdat God ons hier nodig het. Dis menslik om soms te vergeet elkeen het 'n doel. Dis menslik om soms van die paaidjie af te wandel... Dis die mense wat jy in jou lewe het, wat jou terug bring en jou lewe weer verander in iets mooi en eerlik. Hou vas aan daai mense my engel kind... Dis hulle wat jou lewe soveel plesier gee.

My kind, jou hartjie is nog so klein, jou persoonlikheid nog so on-ontwikkel. Party dae wil mamma jou net vashou en jou soen tot jy nie meer soene wil hê nie. Mamma is so oneindig lief vir jou!

Jy bring soveel liefde, waardering en eerlikheid.
Jou binnemondse geselsies, bring vertroosing, geluk en geduld.
Jou handjies wat my nekkie omvou, bring vrede en trots.
Jou glimlag, bring ruste in my wêreld, waar stres en 'n jaag die hoogtepunt van elke dag is.
Wanneer jou vingertjies my gesiggie streel en vashou, is my geluk onbeskryfbaar.
Wanneer jy elke middag hardloop sodat ek jou kan optel na 'n daggie by die skool, borrel die opgewondenheid hier binne in my! Mamma bid elke dag om, net sodat ek jou weer kan sien.

Dankie my kind, dat jy my so lief het, dat dit soms voel of niks anders saak maak nie.
Jy is die juweel van my hart... Die mooi van die lewe sien ek in jou ogies elke dag... Jy hou my getrou aan myself en aan ons God. Jy laat my glo in die onbekende. Jy is, meer as genoeg vir my. Jy is alles wat ek nog ooit nodig gehad het.

Mamma is jou grootste "fan". Ek kan ure luister na jou geselsies en deesdae probeer jy sing. Dis so spesiaal. Ek wens die lewe kon net vir daai oomblik bietjie stilstaan. Sodat mamma dit nooit ooit sal vergeet nie. Mamma koester daai oomblikke!

Ek is lief vir jou my kind... Met alles wat ek is, alles wat ek het en alles waarvoor ek lewe. Moet dit nooit vergeet nie.

Met al my liefde...

Jou mamma ♥

Thursday, 9 March 2017

Bemeester jou foute my kind, dit sal jou leer wat die realiteit van die lewe is...

My liefste Marlo engelkind...

Mamma sê vanoggend ‘n ekstra lang gebedjie vir jou my kind. Ek het gisteraand gesukkel om te slaap, dinge pla. Dis daai tipe dinge waar mens na jou kyk en jy sommer hartseer voel want Mamma weet ek kan nie altyd alles vir jou doen en jou beskerm nie.
Mamma wens ek kan jou paadjie vir jou uitkerf. Mamma sal seker maak, dat jou grondpad vol roosblaartjies gestrooi is, voor jy enige verdere tree vat. Mamma sal die lelike grondpat se klippe optel en gate toe gooi, sodat jou pad vir altyd gelyk is, sonder dat jy moet struikel of val. Mamma wens ek kan vir jou net die beste belowe en die meeste geluk op aarde bring, maar ek kan nie my kind, al wil ek hoe graag. Al wat Mamma kan doen is om vir jou te bid en jou te probeer grootmaak na die beste wat ek kan. God het jou toevertrou aan my en Pappa. Dis ‘n groot massiewe taak, maar tog so lekker. Ek sal jou vir niks in die wêreld verruil nie. Jy my kind, het my geleer wat ware geluk is.
Jy vul ons huisie met die geluide van jou skaterlag, dit ego sommer elke vertrek deur. Dit gee daai warm gevoel, een wat net ‘n Mamma sal kan verstaan. Jy, omring my siel, my hart, my woorde, met jou klein persoonlikheid. Jy bring geluk... ware geluk wat net ‘n ouer sal verstaan. Dankie my kind, dat jy my lewe so opkikker met jou uit-jou-maag-uit lag, laf wees oomblikke en sê-goedjies... Jy maak van hierdie Mamma ‘n beter mens.
Mamma wens ek kan jou belowe dat elke nuwe dag, net beter gaan wees. Ek wens ek kan keer wanneer seer op jou pad gaan kom. Mamma wens, jou eerste meisie gaan nooit jou hart breek nie. Maar ek kan nie my kind. Mamma kan maar net altyd daar vir jou probeer wees en jou raad gee en drukkies gee. Ek wens ek kon jou vir altyd by my hou, waar dit veilig is en waar teleurstelling nie ‘n definisie het nie, sodat jy nooit bang sal wees om iets aan te pak nie en nooit sal hoef te worry oor seer kry nie.
Maar ongelukkig my liewe klein Marlo, is dit nie hoe die lewe werk nie. Die pleister op jou knieg, is al wat Mamma kan op plak nadat jy geval het. Mamma kan nie ‘n eina net sommer wegvat nie. Wanneer jy ‘n knop op jou kop kry oor jy hom teen iets gestamp het, kan mamma jou maar net ‘n sakkie ys gee en jou help om die pyn minder te maak. Mamma kan nie die knop wegvat of die pyn laat ophou nie. Maar meeste van alles, wens ek, die een ding wat ek kan doen, is om te keer dat jou klein hartjie nooit ooit sal seer kry nie en geen litteteken sal dra nie. Mag jou klein hartjie nooit gebreek word nie my kind. Mag jou menswees nooit die donker van die lewe raak sien of beleef nie. Mag die blootstelling aan seerkry, jou leer, dis ok om hartseer te wees... Dis ok, ek belowe.
Ek bid, dat jy altyd sal weet, dat maak nie saak hoeveel keer jy val nie, opstaan is die enigste opsie. Bemeester jou foute my kind, dit sal jou leer wat die realiteit van die lewe is... Elke bietjie seer en elke bietjie sukkel, leer jou en omskep jou in iemand soveel beter en meer waardig. Teleurstellings het oorkombare definies, eintlik baie, want vir elke probleem is daar ‘n oplossing.  Seer en sukkel, is nooit die einde nie... Dis die begin, van iets soveel beter. Glo altyd in jou menswees.. Jou ysblou ogies, spreek die woorde wat jou siel fluister. En wat ek in jou ogies raaksien is woorde van liefde, hoop en geluk.
Ons almal het ‘n verval datum my kind... Niks is gewaarborg nie. Ons is vir mekaar geleen, en moet al die tye, gelukkige en ongelukkige tye verduur om mekaar te waardeer. Elke mens het iets goed en mooi in hulle hartjie... Jy moet dit net raaksien. Almal is tog kinders van God. Probeer asseblief om altyd die mooi raak te sien, in elke mens wat oor jou pad gaan kom. Jy sal hulle meer waardeer.

Solank as wat God my toelaat, sal ek jou mamma wees. Mamma sal altyd jou vashou, drukkies en liefde gee, vir solank as wat ek lewe, want dis my werk, dis my plig en dis my roeping. Dis vir my so lekker om jou mamma te wees. Dankie my kind, dat jy vir my so lief is en jou armpies altyd om my nek gooi. Dankie dat jy aande op my skoot kom sit, jou handjies om my wange vou en my net soentjies gee. My hart is vir altyd joune.
Onthou, ek is baie lief vir jou my engelkind... Sonder enige termes of voorwaardes... Dis net pleinweg ware onophoudelike liefde... Vir altyd en nog ‘n bietjie meer.
Met al my tonne en tonne liefde,
Jou Mamma
xxx