My liefste Marlo engelkind...
Mamma
sê vanoggend ‘n ekstra lang gebedjie vir jou my kind. Ek het gisteraand
gesukkel om te slaap, dinge pla. Dis daai tipe dinge waar mens na jou kyk en jy
sommer hartseer voel want Mamma weet ek kan nie altyd alles vir jou doen en jou
beskerm nie.
Mamma
wens ek kan jou paadjie vir jou uitkerf. Mamma sal seker maak, dat jou grondpad vol roosblaartjies gestrooi
is, voor jy enige verdere tree vat. Mamma sal die lelike grondpat se klippe
optel en gate toe gooi, sodat jou pad vir altyd gelyk is, sonder dat jy moet
struikel of val. Mamma wens ek kan vir jou net die beste belowe en die meeste
geluk op aarde bring, maar ek kan nie my kind, al wil ek hoe graag. Al wat
Mamma kan doen is om vir jou te bid en jou te probeer grootmaak na die beste
wat ek kan. God het jou toevertrou aan my en Pappa. Dis ‘n groot massiewe taak,
maar tog so lekker. Ek sal jou vir niks in die wêreld verruil nie. Jy my kind,
het my geleer wat ware geluk is.
Jy vul ons huisie met die geluide van jou
skaterlag, dit ego sommer elke vertrek deur. Dit gee daai warm
gevoel, een wat net ‘n Mamma sal kan verstaan. Jy, omring my siel, my hart, my
woorde, met jou klein persoonlikheid. Jy bring geluk... ware geluk wat net ‘n
ouer sal verstaan. Dankie my kind, dat jy my lewe so opkikker met jou uit-jou-maag-uit
lag, laf wees oomblikke en sê-goedjies... Jy maak van hierdie Mamma ‘n beter
mens.
Mamma wens ek kan jou belowe dat elke nuwe
dag, net beter gaan wees. Ek wens ek kan keer wanneer seer op jou pad gaan kom.
Mamma wens, jou eerste meisie gaan nooit jou hart breek
nie. Maar ek kan nie my kind. Mamma kan maar net altyd daar vir jou probeer
wees en jou raad gee en drukkies gee. Ek wens ek kon jou vir altyd by my hou,
waar dit veilig is en waar teleurstelling nie ‘n definisie het nie, sodat jy
nooit bang sal wees om iets aan te pak nie en nooit sal hoef te worry oor seer
kry nie.
Maar ongelukkig my liewe klein Marlo, is
dit nie hoe die lewe werk nie. Die pleister op jou knieg, is al wat Mamma kan
op plak nadat jy geval het. Mamma kan nie ‘n eina net sommer wegvat nie.
Wanneer jy ‘n knop op jou kop kry oor jy hom teen iets gestamp het, kan mamma
jou maar net ‘n sakkie ys gee en jou help om die pyn minder te maak. Mamma kan
nie die knop wegvat of die pyn laat ophou nie. Maar meeste van alles, wens ek,
die een ding wat ek kan doen, is om te keer dat jou klein hartjie nooit ooit
sal seer kry nie en geen litteteken sal dra nie. Mag jou klein hartjie nooit
gebreek word nie my kind. Mag jou menswees nooit die donker van die lewe raak
sien of beleef nie. Mag die blootstelling aan seerkry, jou leer, dis ok om
hartseer te wees... Dis ok, ek belowe.
Ek bid, dat jy altyd sal weet, dat maak nie
saak hoeveel keer jy val nie, opstaan is die enigste opsie. Bemeester jou foute
my kind, dit sal jou leer wat die realiteit van die lewe is... Elke bietjie
seer en elke bietjie sukkel, leer jou en omskep jou in iemand soveel beter en meer
waardig. Teleurstellings het oorkombare definies, eintlik baie, want vir elke
probleem is daar ‘n oplossing. Seer en
sukkel, is nooit die einde nie... Dis die begin, van iets soveel beter. Glo
altyd in jou menswees.. Jou ysblou ogies, spreek die woorde wat jou siel
fluister. En wat ek in jou ogies raaksien is woorde van liefde, hoop en geluk.
Ons almal het ‘n verval datum my
kind... Niks is gewaarborg nie. Ons is vir mekaar geleen, en moet al die tye,
gelukkige en ongelukkige tye verduur om mekaar te waardeer. Elke mens het iets
goed en mooi in hulle hartjie... Jy moet dit net raaksien. Almal is tog kinders
van God. Probeer asseblief om altyd die mooi raak te sien, in elke mens wat oor
jou pad gaan kom. Jy sal hulle meer waardeer.
Solank as wat God my toelaat, sal ek jou mamma wees. Mamma sal altyd jou vashou, drukkies en liefde gee, vir solank as wat ek lewe, want dis my werk, dis my plig en dis my roeping. Dis vir my so lekker om jou mamma te wees. Dankie my kind, dat jy vir my so lief is en jou armpies altyd om my nek gooi. Dankie dat jy aande op my skoot kom sit, jou handjies om my wange vou en my net soentjies gee. My hart is vir altyd joune.
Solank as wat God my toelaat, sal ek jou mamma wees. Mamma sal altyd jou vashou, drukkies en liefde gee, vir solank as wat ek lewe, want dis my werk, dis my plig en dis my roeping. Dis vir my so lekker om jou mamma te wees. Dankie my kind, dat jy vir my so lief is en jou armpies altyd om my nek gooi. Dankie dat jy aande op my skoot kom sit, jou handjies om my wange vou en my net soentjies gee. My hart is vir altyd joune.
Onthou, ek is baie lief vir jou my engelkind...
Sonder enige termes of voorwaardes... Dis net pleinweg
ware onophoudelike liefde... Vir altyd en nog ‘n bietjie meer.
Met
al my tonne en tonne liefde,
Jou Mamma
xxx
No comments:
Post a Comment