Thursday, 9 June 2016

My Superman... Jy is my hero!


My liefste klein Superman...

Dis al meer 'n jaar terug, wat mamma daai oproep gekry het. Ek kry skoon hoendervleis as ek dink aan daai oggend. Ek dink nie dis 'n dag wat ek ooit sal vergeet nie. Ek het gejaag om so gou as moontlik by jou uit te kom. Ek was daar, nog voor die ambulans jou gebring het. Ek het die vorms probeer invul, maar my hande het so gebewe, ek kon nie eers my eie handskrif erken nie.... Wanneer 'n mamma so hulpeloos voel, is dit asof jou lewe tot 'n stilstand kom. Jy hou op asemhaal vir 'n paar oomblikke, sonder dat jy eers besef.

Wat die seerste gemaak het, dit was amper 2 ure voor ek jou kon sien... Die dokters wou ons nie toelaat by jou nie. Juffrou  het vir my verduidelik dat jy twee keer ophou asem haal het... My hart het amper gaan staan. Ek onthou nie wat sy verder gesê het nie, ek het net begin huil... Ek het pappa heeltyd gebel. Ek het gehuil, geskree, gebid. Ek het God gesmeek om jou te spaar.

My grootste wens is, dat jy eendag sal besef, hoe spesiaal jy is... Jy is so spesiaal, dat God besluit het, jou plekkie op aarde is nog lank nie bespreek vir die hemel nie. Jy my kind, is gespaar en gesond gemaak vir 'n rede... Ek natuurlik glo, dis omdat jy die mees kosbaarste geskenkie is, wat ek al ooit ontvang het. Ek dink nie ek sou survive sonder jou nie. Ek dink God het geweet, ek sou nie ooit weer kon lewe, sonder my kind nie. Jy was en is steeds so mooi kind. Ek onthou toe jy gebore was, kon ek nie glo jy is so mooi nie. Ek was skoon bang om jou vas te hou. Ek het bang gevoel, opgewonde, maar bang. 

Jy is net 18 maande oud, maar weet jy hoeveel het jy al deurgemaak my kind? Met jou geboorte was dit nie maklik vir mamma nie... Na vele komplikasies, moet hulle my narkose gee en ek het so gehuil, want ek wou wakker wees wanneer jy die eerste keer jou verskyning maak. Maar mamma kon nie. Pappa het heeltyd langs ons bed gestaan en toe jy gebore is, het pappa elke sekonde langs jou bedjie spandeer. Jou vertroetel, jou gesiggie leer ken en soos ek pappa ken, heeldag gebedjies opgesê vir God om jou vir altyd te beskerm en te omvou. 

Mamma, kon daai aand, (jy was 8 uur die oggend gebore) jou vir die eerste keer vashou. Ouma het my wakker gemaak en gesê: "Mamma jy moet vir Marlo bietjie vashou. Hy moet jou vel teen sy vel voel sodat julle 'n band kan hê." Tot vandag toe nog is ek so dankbaar dat ouma daar was. Sy was so opegewonde om jou te ontmoet. En weet jy, tot vandag toe, aanbid sy die grond waarop jou twee klein voetjies loop. Ouma, bederf en liefies jou elke keer in oorvloed wanneer julle tweetjies saam is. Jy moet dit waardeer my kind, ouma's is die spesiaalste mensies op aarde. 

En toe, net so bietjie meer as 'n jaar terug, het mamma die seerste seer beleef, denkbaar. Jy my kind, het verstik by die kleuterskool. Ek wens vir geen mamma, daai pyn, seer en onsekerheid om te sien hoe jou kleintjie vir sy lewe veg nie. Jy het terug baklei my kind! Eendag, wanneer jy groot is, sal mamma vir jou al die boodskappies wys wat mense vir jou gestuur het. Sommige mense wat ons nie eers ken nie het vir jou gebid... vir ons. 

En dis hoekom jy, so klein soos jy is, my hero is... Jy het die ontmoontlike oorwin... Jy het aan my bewys, dat maak nie saak hoe erg die situasie is nie, opgee is nooit 'n opsie nie. Ek weet nou, dat God se woord leef... Wonderwerke gebeur... Hoop, geloof en liefde maak enige iets beter. Solank jy vashou aan daai waardes my kind, sal jou lewe altyd volmaak wees. 

Mamma is baie lief vir jou my Superman! Vir altyd en nog 'n bietjie meer. Ek belowe. 








No comments:

Post a Comment