Liefde wat 'n ma vir haar kind het, is onbeskryfbaar... My engel kind, het die ergste al oorleef. Met hierdie blog hoop ek om elke detail van sy lewe te skryf, sodat hy dit self eendag kan lees en kan besef hoe spesiaal hy is.
Friday, 23 September 2016
Jou Pappa... My held, my man, my beste vriend....
Vandag wil mamma jou vertel, van Pappa...
Eendag, wanneer jy groter is, sal jou liefde en
persoonlikheid, diè weerspreek van pappa, want jy my kind, is in alle opsigte, nes pappa.
Pappa is nie 'n man van vele woorde nie... Hy weet nie altyd hoe om te gesels oor dinge wat regtig saak maak nie, maar hy is beslis iemand wat wys deur sy aksies hoe oneindig lief hy iemand het. Eendag as jy groter is, sal jy besef, dat alles wat Pappa doen, doen hy vir jou... vir sy gesin.
Pappa se trots word weerspreek deur sy kinders... Jy, boetie en sussie. Sy kinders is sy lewe, sy bestaan en sy rede. Pappa sal enige iets vir jou doen my engel kind. Moet nooit ooit twyfel daaraan of jy iets met hom kan bespreek of nie. Pappa gee goeie raad en is al deur so baie in sy eie lewe. Pappa sal baie beter verstaan, as wat jy dink. Moet nooit bang wees om met Pappa te praat oor enige iets nie. Pappa sal altyd daar wees vir jou, dag of nag, enige tyd...
Hy is 'n rots, 'n beste vriend, 'n mentor. Hy is alles, wat ek hoop jy eendag sal wees. Hy weet wanneer jy seer het, en op sy eie manier, sal hy dit beter maak... So klein soos jy is, is pappa klaar jou held. Jy gesels al te lekker en so tussen deur jou baba taal, is al wat mens hoor "pappa" dit of "pappa" dat...
Eendag, wanneer jy kinders van jou eie het, gaan jy sê, "My pa was lief vir ons." Jy sal dit elke dag kan sien in sy gesig, sy aksies en sy woorde...
Jy gaan kan sê, "My Pa was lief vir my Ma." Want Pappa is regtig. Ek het 'n man en 'n beste vriend in jou Pappa. Pappa is nooit lelik met my nie, verskree my nie, misbruik my nie. Pappa het my nog altyd net met die grootste respek hanteer en wanneer mamma se hartjie soms seer is, maak Pappa dit altyd soveel beter met sy drukkies. Pappa is regtig 'n goeie man, een wat ek hoop jy eendag sal wees vir jou vrou.
Jy sal altyd kan sê, "My Pa was eerlik en hardwerkend." Pappa sal altyd eerlik met jou wees. Weet jy soms, kom Pappa by die huis, dan is sy hande so gevlek en vol seer plekke, want hy werk baie hard vir ons. Pappa weet wat die waarde daarvan is, om hard te werk en glo vir my, Pappa was nog nooit bang vir hard werk nie. Dis iets wat ek hoop jy ook sal aanleer.
"Pappa is 'n goeie vriend." Pappa gaan nog jou beste vriend wees. Jy was skaars een jaartjies oud, toe koop Pappa al vir jou, jou eerste Quadbike... Nie omdat hy geld wou mors nie, maar so klein soos jy is, is dit jou en Pappa se stokperdjie. Pappa sal altyd tyd maak vir jou my kind, sodat hy dinge saam met jou kan doen. Dis jou en pappa se kwaliteit tyd saam. Koester daai oomblikke altyd en moet dit nooit vergeet nie.
Jy gaan eendag sê "My pappa help ander mense altyd en is vrygewig." Pappa sal altyd iemand help, maak nie saak hoe groot of klein die situasie is nie. Pappa sal altyd sy tyd en as dit moontlik is, sy geld gee vir iemand wat dit meer nodig het.
"My pappa 'love life' en het altyd hoop." My kind, jou Pappa lewe vir elke oomblik van sy lewe saam met sy gesin en familie.... die groot en klein oomblikke. Jy sal eendag besef, Pappa se hoop was vir altyd... Sy hoop vir sy kinders, sy gesin en familie sal altyd wees; net vir almal om gelukkig te wees. Pappa glo altyd, hoop, geloof en liefde oorwin alles. Pappa het my dit geleer. Mamma staan nou nog daarby.
Pappa wil altyd net die beste vir jou hê. Wanneer Pappa raas, is dit omdat hy omgee en lief is vir jou. Pappa sal altyd na jou kyk en vir jou sorg. Pappa sal altyd seker maak om jou te bederf en jou na plekke toe vat waar julle kan visvang en swem. Pappa sal altyd seker maak jy het mooi goed, speel goed en genoeg van alles. Dit belowe ek jou.
My kind, ek hoop eendag jy weet, hoe spesiaal jou Pappa is. God het Pappa gekies vir jou... God het geweet, dis jou Pappa en jy is sy seun. Pappa is jou geskenk van God af. Onthou dit altyd en respekteer jou Pappa.
Pappa is nie selfsugtig nie. Met Pappa gaan dit oor hoe meer jy gee, hoe meer kry jy terug. Pappa sal altyd vinnig vergewe vir wanneer jy stout was, of wanneer jy dalk nie jou huiswerk gedoen het nie. Pappa hou nie van kwaad wees nie, nog minder van baklei. Moet nooit dink Pappa is sommer net kwaad vir geen rede nie. Pappa het 'n baie sagte hartjie. Waardeer Pappa altyd.
My kind, jou Pappa droom groot drome vir jou, al is jy nog so klein. Pappa sal altyd in jou glo, selfs wanneer jy soms nie eers voel, jy kan in jouself glo nie. Pappa sal altyd reg langs jou wees, jou aanmoedig om nie op te gee nie. Want dis wat Pappas doen.
Pappa lief jou so baie my klein superman. Moet nooit ooit twyfel in Pappa nie. Dis die beste en enigste Pappa wat jy ooit sal hê.
Lief jou vir altyd en nog 'n biejtie meer my engel kind.
Jou mamma
xxx
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment