Monday, 26 September 2016

Elke dag is 'n nuwe dag... 'n nuwe oomblik... 'n nuwe lewens les

My liefste klein Superman....

Mamma besef elke dag al hoe meer, hoe kosbaar tyd saam met jou is. Jy is nou te ougat... Jy is 22 maande oud... ampertjies dan is jy al 'n volle 2 jaar oud... Waar het die tyd heen gegaan? Ek het verlede week met 'n skok agtergekom, een van die dae, is jy nie meer my babatjie nie... Jy het begin met jou potty training. Ai, mamma kry skoon 'n knop in my keel. Ek wil nie hê jy moet groot word nie. Mamma wil hê jy moet vir altyd klein bly, want op die stadium is ek nog so belangrik in jou lewe. Jy kom sit op my skoot met elke kans wat jy kry. Jy huil vir my om jou op te tel, wanneer jy net bietjie aandag en liefde soek. Jy speel en hardloop al om my as ek doenig in die kombuis is. Ek gaan die dae mis wat jy die tupperware kas uitpak as mamma in die kombuis besig is met kos maak. Dis hoe mamma dit soek, vir altyd. Maar, soos ons Pastoor sondag gesê het, God se woord sê ons moet kinders van God groot maak. Jy moet groot word my kind, ek weet...

My skrywe gaan vandag oor alles wat nuut begin... Mag jy altyd onthou, daar is altyd iets nuut wat wag.... 'n nuwe dag... nuwe uitdagings. Om foute te maak is menslik, dis hoe mens leer en sterk word. Ek hoop jy sal altyd onthou, mens kry 'n tweede kans, maak nie saak wat nie.

Ons het al soveel deurgegaan my kind. Jou klein lyfie, wat dien as 'n tempel van God, het al die onmoontlike oorkom. Jy is 'n bewys dat God se woord leef.... Dat daar regtig so iets soos wonderwerke is. God het jou gespaar my kind vir 'n rede... Ek kan nie wag om te sien watter pad God vir jou uitgekerf het nie. Dit gaan 'n eer wees, om jou mamma te wees gedurende die tyd wat jy die pad gaan stap om in 'n man te verander. Dit gaan so amazing wees! Deur jou lewenspad, gaan jy, jou eie Goliat oorwin!

Mamma het al so baie geleer en ek leer elke dag iets nuut. Daar is nie 'n boek wat mens kan koop om 'n perfekte mamma te wees nie. Jy my seun, is my eerste. Mamma voel soms hulpeloos en dom, maar dan onthou ek, elke dag is 'n nuwe dag. Wanneer dit nie 'n lekker dag is nie, en ek nie seker is watter kant toe nie, leer mamma 'n nuwe les. Hoe meer jy begin gesels en met jou handjies wys, hoe meer leer mamma om jou te verstaan. Dis so lekker as jy by my sit en gesels. Ons maak sommer ons eie storie op soos die geklets aangaan. Jou skreeu laggie wanneer ons sommer net begin sing en kielie is die klanke wat hierdie moeder hart vinniger laat klop. Jy is pragtig my kind.

Een van my grootste vrese vandag is, dat jy eendag iewers gaan seer kry. Mamma wens ek kon jou beskerm met elke treetjie wat jy gee. Mamma wens sy kan al jou hartseer keer wat nog gaan kom soos jy groter word. Maar mamma kan nie my kind... Om te lewe, is 'n onbeheerbare leer proses. Jy gaan seer kry, en dan gaan daar oomblikke wees wat jy so gelukkig is, dit gaan voel of jou lewe in 'n oormaat gebless het. Jy gaan leer hoe dit voel om iemand te verloor.... Hoe om te sien hoe God iemand nuuts in jou lewe stuur, want Hy sal nooit iemand net wegvat en nie iemand beter en meer waardig stuur nie. Het jy geweet die dag toe Oupa Janna dood is, het ek vir Pappa gesê, wanneer mens iemand verloor, stuur God weer iemand om jou lewe te vervul... 'n paar maande later toe vind ons uit, jy is oppad. Hoe amazing is dit nie?

Solank as wat mamma kan, sal mamma elke paadjie saam met jou stap en elke berg uit klim. Mamma sal altyd probeer raad gee, probeer keer vir onnodige seer, maar die pad vorentoe, is wat jou gaan maak wie jy word... Belowe mamma asb altyd dat jy; -

♥ NOOIT OOIT MOED SAL OPGEE NIE. Maak nie saak wat nie, jy hou aan my kind met alles wat jy het!

♥ MOET NOOIT DIE KRAG WAT JYSELF BINNE IN JOU HET ONDERSKAT OF VERGEET NIE. Glo altyd in jouself, maar meeste van alles, glo altyd in ons Hemelse Vader. En wanneer jy verlore of moedeloos voel, onthou Gebed en Geloof bring krag! Maak jou ogies toe en bid my kind! God luister altyd.

♥ MOET NOOIT VERGEET JY IS 'N KIND VAN GOD NIE! Mamma kan dalk jou trane afvee en 'n pleister op plak, maar God maak die seer plekkie beter.

♥ MENSE SAL JOU ALTYD SEERMAAK. Of hulle dit nou bedoel of nie. Dis ongelukkig deel van die lewe my kind. Probeer jy net altyd om nie iemand ander seer te maak nie. Wees altyd bedagsaam teenoor ander. Jy my kind, is 'n engel. Wees 'n engel ook vir ander.

♥ DIE LEWE SAL ONS ALTYD TOETS. Moenie bekommer nie, met God aan jou kant, slaag jy daai toets sommer in 'n japtrap! Elke toets en elke gebeurtenis maak jou hartjie sterker. Dit bou jou menswees. Dit sal jou altyd verander in iemand met hoop. Moet nooit ophou hoop en glo nie. God het altyd 'n plan!

♥ WEES ALTYD LIEF VIR IEMAND. Of dit nou ek of Pappa, boetie of sussie is.. Of dalk die meisie wat jou hartjie nog eendag gaan steel... Wees altyd lief vir iemand. Dit sal jou voete op die grond hou en jou herhinner aan oneindige geluk. Liefde is geluk my kind, deel jou liefde met jou medemens.

Maar vandag wil mamma jou vra, onthou asseblief altyd dat die grootste geskenk wat God ons kon gee, is die Wil om altyd voort te gaan. Maak nie saak hoe seer of hoe moeilik dit is nie. En weet net, daai Wil wat jy altyd in jou hart sal voel, groei uit die fondasie van hoop en liefde uit. Sonder hoop en liefde, sal jou geloof nooit kan blom nie. Vertrou op God, bid elke dag en gaan kuier vir God in die kerk. Jy sal verbaas wees, hoeveel ongelooflike mense jy op sulke dae kan ontmoet.

Mamma is so oneindig lief vir jou. Jy is my geskenk. My rede vir elke oggend se opstaan... Die rede vir hierdie liefde in my hartjie wat ek nooit geken het nie. Ek dank God elke dag, want sonder jou sou my lewe leeg wees.

Lief jou vir altyd en nog 'n bietjie meer!

Jou mamma

xxx




No comments:

Post a Comment