My liefste klein Superman....
Mamma loop nou al vir maande met 'n gevoel in my hartjie... Dis een van daai gevoelens wat moeilik is om te beskryf, aangesien dit te doen het met hartseer, verlange, geluk en liefde. Ek dink die woorde "mixed feelings" is die beste manier om dit te beskryf.
So baie gebeur elke week. Mamma wens sy kon elke oomblik op video sit. Elke dag gaan net te vinnig verby, en die slegste van alles is, mens vergeet soms om die klein oomblikke, wat eintlik die belangrikste is, te onthou.
Ons staan nader aan die einde van die jaar toe. Ons is moeg. Dit was 'n moeilike en lang jaar. Ek voel soms so skuldig, want wanneer jy moeilik is of huilerig is, vergeet ek soms dat jy ook maar net 'n klein mensie is. Jy kan ook 'n afdag hê, Jy kan soms moeg voel. Dalk was jou dag ook maar lank en wil jy net bietjie rustig wees. Mamma is jammer hieroor. Maar ek probeer my kind... ek belowe ek probeer altyd om jou beter te verstaan. Mamma het al agtergekom, wanneer ek na jou toe kruip terwyl jy op die bank sit en ek voor jou gaan staan op my kniee, helder jou gesiggie sommer dadelik op en begin jy gesels.
Ek is jammer mamma is nie altyd daar wanneer jy my nodig het nie. Ek wens daar het nie so iets soos kos maak, skoon maak en werk bestaan nie, want dan kan ek elke minuut van die 24 uur van 'n dag saam met jou sit en speel. Ek koester ons bad tye saam, want dis wanneer mamma die kans kry om vir jou te sing, jou klein toontjies een vir een te was en jou te kielie tot jy lag. Wanneer jy mamma so fliks help om my hare te was, voel ek skoon trots... Jy kan al so baie dingetjies self doen, maar wil altyd help. Of ons nou in die tuin werk, skottelgoed was of klere in die wasmasjien sit... Jy is altyd reg langs my, reg om te help. Jy is 'n regte ou staatmakertjie.
Mamma wees is nie maklik nie. God weet hoeveel keer het ek al hulpeloos gevoel. Nagte gaan om wat ek en Pappa nie slaap nie, want jy slaap nie lekker nie. As ek en Pappa so voel die volgende dag, wil mamma nie eers weet hoe jy moet voel nie na 'n onrustige aand nie. Jou klein lyfie is nie gewoond aan min slaap, lang dae en besige dae nie. Maar, vandag wil mamma jou vertel, hoekom ek dink, God jou gekies het, as my engel kind...
Mamma onthou 'n tyd wat ek gedink het, ek sal nooit my eie kinders hê nie. Daar was 'n tyd wat mamma meer gefokus was op werk en my loopbaan as op my eie doelwitte. Dan praat ek nie eers van die tyd wanneer my sosiale lewe met vriende elke dag 'n hoogtepunt was nie. Maar, diep binne in my hart, het mamma altyd geweet daar kort iets. Mamma het soms nagte om gebid en God gesmeek vir 'n perfekte man met wie ek my eie gesin kon hê. Ek het altyd gevoel, daar moet iets meer wees. Mamma het nooit gedink so klein bondeltjie liefde soos jy, sou soveel veranderinge in my lewe gebring het nie. (Mamma moet jou nog vertel, hoe ek en Pappa ontmoet het en hoe ons paaie weer na 12 jaar gekruis het. Al wat jy nou moet weet, is na ek pappa vir 12 jaar nie gesien het nie, het dit gevoel soos "love at first sight" toe ek pappa weer gesien het by die braai.)
My engel kind, jy gee moed wanneer mamma se daggie lank was of wanneer ek voel dinge is moeilik. Jy gee krag wanneer mens hulpeloos voel asof niks wil uitwerk nie. Jou armpies steek jy altyd uit na my toe, jou glimlag is aansteeklik. Jou ogies lag so lekker saam as jou mondjie smile. Jou handjie wat so perfek om my vingertjies vou wanneer jy my iets wil wys, los my soms spraakeloos. Soms dink ek, mamma het jou meer nodig as jy vir my. Ek kan nie my lewe indink sonder jou nie. Ek kan nie glo, dat hierdie liefies wat mamma in hart voel, bestaan nie. Dis daai tipe liefies wat net 'n mamma sal verstaan. Jou geselsies is my aanmoediging. Jy gee nie om of ek sommer net 'n storie opmaak en of ek iets uit 'n boek uit lees nie. Jy gesels saam. Jy beduie en lag... Dis so spesiaal my kind.
Dankie my engel kind, dat jy mamma se seuntjie kind is. Ek weet dit was God se plan en na al die jare was dit elke oomblik se wag werd gewees.
Dankie, dat ek altyd voel asof ek jou nommer een is. By jou sal ek altyd 'n plekkie hê. Of dit nou langs jou op die bank is, of wanneer mamma jou net wil vashou... By jou, voel mamma altyd tuis.
Dankie my kind, dat jy nie kwaad bly wanneer mamma moet raas nie. Jy vergewe my sommer dadelik en lê jou koppie neer op my skouer. Mamma is jammer as ek soms streng is, maar mamma wil net hê jy moet eendag as jy groot is, die beste mens wees wat jy kan wees en dat jy altyd sal weet wat "reg" en wat "verkeerd" is. Mamma kry soms net so seer as ek moet raas, want ek wil nie, maar ek weet ek moet. Seblief vergewe my altyd, maak nie saak hoe oud jy is of waaroor ek nog gaan raas nie.
Dankie my kind, dat jy mamma staande hou... Jou liefies weerspreek elke bietjie van jou persoonlikheid. Jou laggie is my daaglikste medisyne. Jy, is my rede vir nooit opgee nie. Vir altyd aanhou.
Dankie my kind, dat jy my hoop gee. Na jou ongeluk, het mamma geleer van geloof. Mamma het geleer dat God regtig egtig wonderwerke kan laat gebeur. Jy, so klein soos jy is, is die rede dat mamma geleer het, gebed is alles en dat mens enige tyd en elke dag moet bid.
Maar meeste van alles, dankie dat jy vir my soveel liefde en geluk gee. Mamma belowe, ek sal altyd net die beste mamma vir jou probeer wees.
Ek is baie lief vir jou my kind, sonder ophou, sonder einde.... elke dag. Vir altyd en nog 'n bietjie meer.
Jou mamma
xxx
No comments:
Post a Comment